Opname beskikbaar op | |
---|---|
Odysee |
Volgorde van Gedenkdiens | |
---|---|
Verwelkoming | André Kritzinger (Dré) |
Samesang | As Hy Weer Kom (449) |
Gebed | Gert van Deventer |
Lewensskets | Karin de Wet en Yolandi Luyken |
Boodskap | Leraar Nico Theunissen (Eks. 25:8) |
Samesang | Blaas die Basuine (406) |
Huldeblyke | Gabriëlle en Kyke Lazarus, Faffa de Kock |
Skyfievertoning | ’n Huldeblyk in foto’s |
Bedankings | Dawie Redelinghuys |
Slotgebed | Herman Luyken |
Draers | Herman Luyken, Morné Lazarus, Reinhardt de Wet, Gert van Deventer |
Blaas die Basuine (Adventlofliedere 406) | |
---|---|
1 | Blaas die basuine, verkondig dit luid: Jesus, ons Heiland, kom weer! Hou moed, o pelgrims, wees hoopvol en sing: Jesus, ons Heiland, kom weer! |
Refrein | Jesus kom weer! Jesus kom weer! Jesus, ons Heiland, kom weer! |
2 | Berge weergalm dit, en vlaktes herhaal: Jesus, ons Heiland, kom weer! Hy kom verheerlik met hemelse praal - Jesus, ons Heiland, kom weer! |
3 | Seë, verkondig in brandergedruis: Jesus, ons Heiland, kom weer! Laat al jul golwe dit donderend bruis: Jesus, ons Heiland, kom weer! |
4 | Aardbewings teister die wêreld alom, Jesus, ons Heiland, kom weer! Storms en orkane leer ons dat Hy kom, Jesus, ons Heiland, kom weer! |
5 | Nasies is toornig, hieraan moet ons weet: Jesus, ons Heiland, kom weer! Kennis vermeerder, verwoesting bring leed; Jesus, ons Heiland, kom weer! |
Geskryf deur Karin De Kock
André Kritzinger is gebore op 17 Junie 1948 in Joubertina, in die Oos-Kaap — die bekende en geliefde Dress en Violet Kritzinger se eerste seun. Hy leef sy kinderjare uit as ondeunde terggees op die eens spog-familieplaas, Nuweplaas, as vierde oudste kind, een van agt kinders, en gaan skool op Somersetgift. Van jongs af ambisieus en gewild, voltooi hy sy hoërskoolloopbaan as onderhoofseun by Hoërskool McLachlan. Sy oudste suster is Tillie, gevolg deur Rene, Ria, George, Edwina, Leona en Jannie.
Hy behaal sy BCom- en later MCom-graad aan die Universiteit van Stellenbosch, en gedurende hierdie tyd val hy “hook, line and sinker” vir sy blou-oog blonde Luigi of Louisa. Hulle trou op 26 Desember 1971. Hy skuif later na UWK waar hy tot professor bevorder word. Hy spandeer hier 25 jaar as dekaan van Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Gedurende hierdie tyd word hulle vier kinders ryker: Luzelle, Karin, Dré en Yolandi. Einde 1998 verhuis hy en Louisa na Helderkruin, Gauteng, waar hy as dekaan by TSA werk en later as vise-rektor by Unisa waarneem. Hy is mal daaroor om netjies aan te trek — hy was tot sy aftrede elke dag in ’n pak met ’n das geDress.
Sy loopbaan floreer en sy werk vereis dat hy baie reis en genooi word om oorsee klas te gee — hy’t met groot afgryse vertel van die bloedwors wat hy in Duitsland bedien is by een van die kollegas waar hy tuisgegaan het.
My pa het ons geleer om die beste te maak van dit wat jy het, en dat om elke liewe skoolvakansie SA te verken meer werd is as duisend pare “brand name” tekkies. Toe dit nog ’n luukse was om ’n tuisrekenaar te hê, het my pa ons IT-mal broer, Dré, se droom verwesenlik en vir hom sy eie rekenaar huistoe gebring.
Jy kon hom enige tyd vra om ’n vrugteboom te identifiseer. Royal appelkose en veral appels was na aan sy hart — ’n appel ’n dag sou hy inkry — al moes my ma dit die laaste paar maande vir hom fyn rasper. Jy kon hom maklik met vis en tjips omkoop, en dié wat hom goed geken het en al saam gebraai het by of De Wet- of Beulahstraat, sal dit beaam dat hy ’n keurige braaimeester en potjiekoskoning was. Ons sal nooit sy visbraaie, southoender, groentepot, seekospan en avo ritz vergeet nie.
Sy happy place was enige plek saam met sy familie en vriende — in sy jongdae het hy ure om geseil op sy Flipper op die Langebaan lagoon. Kamp by J-Bay of Hartenbos was ’n instelling, asook die KKNK op Oudtshoorn en Junie wildtuin-trippies met al die kleinkinders. Die familiebraaie op ’n Sondag by sy geliefde lapa — Dress se nes was legendaries.
As daar ’n toekenning vir die beste oupa was, sou hy dit loshande gewen het. Kyk, hy’t bottels gemaak, aan die slaap gesus, ure met die “kids” soos hy hulle genoem het by die poele gespeel, in die reën rugby gekyk, ’n kind wat nie wou skooltoe gaan nie letterlik in die klas in gepraat, en duisende bakkies pap/broodjies/roereier agter hulle aangedra. Sy geduld met al hulle geite was nimmereindigend (ietwat anders as toe ons stout en klein was).
Hy laat vyf kleinkinders agter: Gabriëlle, Kyle, Faffa, Miecke en Emily. Hy het hulle geleer oor die nituur, soos hy dit genoem het, om ’n nice mens te wees, om jou gunsteling speelding te deel, om nooit skaam te wees oor wie jy is en waar jy vandaan kom nie.
Ieder en elk was altyd welkom in sy huis en is nie daar weg sonder ’n bord kos en paar glase wyn nie. Hy’t ’n vreeslike liefde vir kepse gehad en dié van julle wat al by hulle huis was het al sy “kolleksie”, soos hy dit genoem het, gesien.
Hy’t vir almal ’n bynaam gehad — en al ons kêrels altyd aspris een van die hondename genoem. Sy eie byname getuig van al die rolle wat hy op verskeie gebiede vertolk het: Andrew, Boetie A, Dress en Oupa 1.
As tipiese Kritzinger was hy ’n diereliefhebber wat verskeie honde, katte en voëls se lewens hemel op aarde gemaak het. Jack en Benji maal verslae by die huis rond en wag vir hulle pa om hulle met oorskiethappies te bederf.
Hy was versot op musiek en het ’n wye musieksmaak gehad — van Queen, Abba, Jim Reeves, Trevor Nassser, klassieke musiek, Beatles, Beegees, Softshoes, Elvis Blue, Cher — en hoe harder hoe beter, al moes ons vir eksamens leer.
Ons pa was ’n opregte omgeemens, wat nie geskroom het om in te spring om te help nie — of dit nou instandhouding by Ouma Violet se Groenvallei woonstel, deposito vir ’n behoeftige student se registrasie vir studies, of opstelle en wetenskap-projekte optower op ’n Sondagaand was.
Ons sal ons kalm en wyse raadgewer mis. Wat vir ons uitstaan, is die feit dat hy baie meer geluister as gepraat het. Hy het gekies om die goeie in almal te embrace, soms tot sy eie nadeel.
In van die duisende boodskappe op FB van oud kollegas, familie en vriende word my pa as ’n pittige en vrolike André beskryf, ongelooflike mentor, altyd positief met ’n oplossing, ’n ligstraaltjie, wonderlike gesinsman, stoutgat, man met ’n skerp brein met nog ’n skerper sin vir humor. Hy was altyd gereed met ’n grappie of storie. Prof was ’n merkwaardige mentor, spitsvondige man met ’n hart van goud.
Hy was ook ferm en het geglo dat mens moet klaarmaak waarmee jy begin het, altyd jou beste moes gee, en het dikwels gevra as mens met ’n toetsuitslag van 93% by die huis kom — nou waar’s die ander 7%? As ons twee minute na die ooreengekome inkomtyd by die huis gekom het, was die gort gaar — want dit gaan oor die beginsel, my kind.
Die seer en verlange word nooit beter nie, dit word net deel van elke dag se lewe, want die onthou is altyd daar. Sy lag, sy kwaai stem, sy manier van bene oorkruis sit — die klein goedjies kom val ongevraagd in jou hart om elke hoek en draai — en dit is ok, want dit is deel van die onthou.
Pa het ons gewys om voluit te leef, die herinneringe is in oorvloed, wat maak dat ons Pa nooit sal vergeet nie. Pa se presence was só groot — daarom is die gemis verswelgend.
Parkinsons het Pa se stem, onafhanklikheid, trots, lewensvreugde en menswees gesteel. Hy wou nooit ’n las vir ander wees nie. En hy’t so mooi gevra dat ons hom asseblief nooit iewers moet gaan parkeer nie — en ons is so dankbaar dat ons tot op die einde by Pa in Pa se eie slaapkamer kon wees.
Die laaste verjaarsdag en Vadersdag wat ons by Pa kon wees was bittersoet. Hoe kan Ensure ooit met ’n braaitjoppie kompeteer?
Ons cheers met ’n glas kouwit of goeie rooiwyn op die vol lewe wat Pa gehad het.
What a legend.